Sunday, January 11, 2009

... 2008 se doodsnikke

Ons het 2008 afgesluit, en 2009 begin met ons Desembertoer. Eerste gig in Plettenbergbaai saam met ons bra's van Willim Welsyn en die Sunrisetoffies. Dit was ons eerste geleentheid om ons nuwe sound uit te toets, en dit werk. Rerig. Die gig verloop sonder voorval, behalwe vir my (nuwe Westone Thunder 1A) kitaar wat kortkort geval het. Gelukkig het Willim se strap vir my geleen, en toe kan ons Rock&roll. Na die tyd is ons na so ander ietwat dodgy plek en na 'n ligter skermutseling met die locals, het ons gaan slaap in ons flat met die seeview.
Vroeg die volgende oggend is ons terug Filly toe om ons speelgoed te gaan haal. Ons jaag toe deur Jbay toe vir ons Oujaarsgig. Ons speel sommer al die middag sodat ons meer tyd kan he om jolyt te hou. Ons speel 'n goeie set en almal dans lekker. My hoogtepunt was egter Tidel Waves. Hulle is so reggae outfit, vermoedelik van Jozi, met 'n moerse lekker vibe. Dit het my op 'n vreemde manier herinner aan die dae van Rooibaardt.
Ons moes Nuwejaar afvat, om ons zen in orde te kry en gaan chill lekker by Etienne se mense in Hoekwil.
Mosselbaai is volgende aan die beurt, en ons word bitterlik teleurgestel deur Big Blue. Toe ons daar aankom, wis niemand van bands nie. Ek wonder wat hulle gedink het toe die posters daar opdaag. Gelukkig was Annette en Andri, ons tjommies van Jbay wat ons op Jbay gemaak het daar, en dis toe 'n lekker kuier.
Etienne laai my toe op Hangklip af en ek raak aan die kuier saam met Jacques en Oom Barry, wat my alles leer van selfverdediging met jou kaal hande, en waar om te druk as jy bang raak, en ons drink allerhande goed in klein glasies. Die gig die aand loop heel lekker, behalwe vir die familie wat gekla het dat dit te hard is (if it's too loud, you're too old man). Annette en Andri is weer daar en die paartie loop oop, danksy Andri se SAB-konneksies.
Ons sluit die toer af in die Strand met 'n marathonset in Bart's. As 'n man moeg getoer is, dan is Hunters Xstreme al wat werk. Ek dink ons het Bart's nou uiteindelik uitgefigure. Die set verloop goed en ek verneem ons gaan nou een keer 'n maand daar speel die jaar. Good times.
Toe ek Sondagaand laat in my stort in Die Vlei staan, en ek kyk hoe die toer die saam met die laaste vuil water in die drein af spoel, kon ek nie help om die heimwee te voel nie. More is ons terug in die regte wereld.

Ons het lang planne vir toere in 2009. Watch this space. O, en ons speel die 24ste Januarie weer in Hangklip. Kom saam vir die jolyt.

Alle heil
Kaalvoet

Friday, December 05, 2008

Die Rooiwyn Rock-off Desmbertoer

Etienne Terblanche & Dikazzins bied aan:

ROOIWYN ROCK-OFF DESEMBERTOER

"Soek en jy sal vind

Dalk is die langpad ons goed gesind

Dalk lê die skat om die volgende draai

Ons kyk maar waar die wind ons waai"

2008 se Hi-Fi Hel is verby, die Son Trek Water en die Langpad roep vir Stellenbosse rooiwynrockers ETIENNE TERBLANCHE & DIKAZZINS. Met Peppermint Stuyvesant op die stembande gaan hulle die nuwejaar tegemoet soos net hulle kan - met 'n rocksolid gedreun, 'n Leë Bottel Tas en die vlymskerp Afrikaanse lirieke wat hul aanhangers telkens laat terugkeer vir meer.

As die name in bold vir jou niks beteken nie, is jy nog buite die vuurkring van ET&D se musiek. Daar's net een manier om jou siel te red: maak seker jy draai in waar die treksaag-kitare, tref-en-trap tromme en diepdonker dreunstemme hierdie vakansie gehoor word:

30 Des Filly Fusion Plett mettie Sunrise Toffies
31 JBay Avontoer met DPK et al
2 Jan Big blu mosselbaai met Akkedis
3 Januarie Hangklip met onsself
4 Barts Tavern met onsself

  • Na die sukses van hul 2008 debuutalbum, "Die Magtige Dreuning", is Desember se toer ook die skryf-en-slypskool vir hul volgende plaat, wat vroeg 2009 geskep word.
  • Vir besprekings, mediakaartjies of 'n geselsie, e-pos dikazzins@dpk.co.za
  • Lees meer oor die band, die vriende & die toer:

www.dpk.co.za/bands/etienne-terblanche-dikazzins

http://www.facebook.com/pages/Etienne-Terblanche-dikazzins/8875524726

http://www.dpk.co.za/toere/die-mk-3de-avontoer/