Friday, August 29, 2008

Die Storie van Etienne Terblanche & Dikazzins

Etienne Terblanche & Dikazzins het sy ontstaan in 2005 met die Woordfees gehad. Vir lank daarna speel Dikazzins in kroeë al langs die kus en oral in die Boland. Dikazzins bestaan uit die jong wynmaker, Etienne Terblanche, op stem en akoestiese kitaar, sy neef KJ du Toit op kitaar en agtergrondstem en Charl Stapelberg op baskitaar. Die oorspronklike tromspeler, Anton Bartman, is onlangs vervang deur Johan Roos.

In 2006 het die toe nuwe plate maatskappy op Stellenbosch, De Plate Kompanjie (DPK), hulle genader om deel te wees van Die Eerste Avontuur. Die album bestaan uit bydraes van al die opkomende bands van die oomblik, onder andere Foto na Dans, Zinkplaat, Die Helde, Gerald Clark en The Orange Stillettos. As deel van die bemarking van Die Eerste Avontuur album, het die DPK 'n toer teen die kus af gereël met 7 bands, 13 optredes en groot partytjies. Dikazzins was deel van hierdie baanbrekertoer genaamd Die Eerste Avontoer.

In 2007 het Dikazzins verskeie feeste en optredes saam met DPK gedoen, waaronder die Beyerskloof Musiek Marathon in Maart, verskeie optredes in Dorpstraat Teater en Hidden Cellar, asook verskeie optredes by funksies en wynplase.

Laat in 2007 word Dikazzins genader deur 'n geheime weldoener, BATman. Onder die bestuur van KJ en Anton Strydom van British American Tobacco doen Dikazzins 'n reeks optredes saam met onder andere Ryno Velvet, Zinkplaat en Jan Blohm. Die toer, bekend as die BATman-sage, het ook 'n draai in die Noorde gemaak vir 'n konsert saam met Radio Suid Afrika en Beeskraal. Peter Stuyvesant besluit om fondse wat hierdie toer ingewin het, vir die opname van Dikazzins se debuut album te gebruik.

Alvorens die album opgeneem is, was daar eers ander gebeure soos Die MK Tweede Avontoer. Hierdie was weereens ‘n baanbrekerstoer en heelwat groter as die eerste poging van 'n jaar tevore. 'n Dokumentêr van hierdie ekskursie wys in November 2008 in die vorm van vier episodes op MK. Verdere optredes in 2008 sluit die Jool Braakfees in (met meer as 10 000 mense en bands soos Karen Zoid, Foto Na Dans, Van Coke Kartel, ens.) asook die Ommiberg Wynfees in die Paarl.

Met fondse vanuit uit hierdie optredes en die hulp van Peter Stuyvesant (BAT) en DPK, het Etienne Terblanche & Dikazzins hul debuut album, Die Magtige Dreuning, in Maart 2008 opgeneem by Sunset Recording Studios buite Stellenbosch, onder leiding van die legendariese Jürgen van Wechmar.