Ek en Et is met die Vlieënde Hollander (my '96 kadet) De Doorns toe vir die betrokke fees. Charl en Anton het ons daar gekry. Ek moes vroeg vlieg, want ek doen toe die klank ook (arme mense). Ek het 'n nuwe ding geleer: As die wind klaar gewaai het dan gaan dit De Doorns toe, die hele land se wind. Daai arme biertent het die hele veld vol gewaai in die nag.
Toe die spul uiteindelik weer opgeslaan is, kon ons die klank opstel. Die bands vir die dag is Organ Andy, Doringdraad en Dikazzins. Daar wees ook so ander dogtertjie wie se naam ek nou vergeet het.
Ons speel toe maar eers so gemengde band, met my en Charl en die helfte van Organ Andy, so paar Chuck Berry en Lynyrd Skynyrd nommers. Doringdraad neem toe die verhoog. Daarna het ons die stage gevat gevolg deur Organ Andy (what a band!!). Dit was hier oor lunch, ons het die prosedure herhaal later die aand.
Nou, De Doorns sit in die middel van die Hexvallei, wat op sy beurt weer tussen berge sit, waarop dit sneeu in die winter. Ek worry eintlik al heel week oor dit, want na ek Racheltjie se storie op my Storieman tapes gehoor het, verkies ek om nie koud te kry nie. Die organiseerders van die fees het dit goed gedink om ons i die skoolsaal te akommodeer na die verrigtinge. My persoonlik ervaring is dat skoolsale nie baie warm is nie. Ek moes immers vir 12 jaar elke maandag in een sit. So werk ek, en die res van my band aan ons binnejackets, want so nag raak lank. Gelukkig kry mens mense soos Melanie. Sy werk by die Toerisme kantoor en toe reel sy vir ons slaapplek met koffie en komberse en warm storte bo-op die berg. Daar was 'n Jacuzzi ook, maar sy water was kouer as wat ek lus was om in hom te sit. Ek het vanoggend die uitsig van daarbo af oor my oggendkoffie sit en bewonder. Nee, kyk, daai is een van die Liewe Vader se beter skilderye. Die hele vallei is vol blokke wingerd en op die stadium van die jaar is elkeen sy eie kleur. My ouma kan definitief nie so mooi kwilt maak nie.
So Melanie, moerse dankie. Jy maak rock&roll nog lekkerder. EN dankie aan daai ander ou vir al die bier.