Die naweek se Weskustoer was heel aangenaam. Niemand het ons harass om te wil speel nie en niemand is geslaan nie. Anton is amper geslaan, maar dis ‘n ander storie.
Vrydagaand was Etienne mos afwesig vir akademiese redes, toe het ek maar so bietjie gesing. Die three-piece effek werk heel goed, maar ek moet erken ek is nie rerig die wêreldklas singer soos wat ek graag voorgee nie. Gelukkig dring Newton Theron mos altyd daarop aan om saam te kom as ons gig, en hy sing nogal mooi. Die gig was toe op die ou end vet pret. My persoonlike hoogtepunte was daai meisie met die rooi hare en toe Newton op die tafel gedans het iewers in die middel van All along the watchtower se tweede lead break. Shot ook vir daai fan club van my wat tydens elke lead break verskyn het. Ek het dit gesmaak.
Saredagaand se Vlakvarkgat gig was ook lekker. Ons moes buite speel, soos stout kinders op ‘n Sondagmiddag, en die wasem so oor die mikrofone as mens sing het nogal cool gelyk.
Baie dankie aan Lydia en Cecil van Kaktus. Ons het baie lekker gebly. Dieselfde vir Eric en Carmen van Vlakvarkgat. As die wind reg waai, kom ons verseker weer.