Twee neefs, ’n idol en ’n musiek-slet
Dikazzins is ’n Stellenbosch-gebaseerde band wat tussen studies en streng oumas deur daarin slaag om op verskeie dorpe in die Wes-Kaap gehoor te word. René Vollgraaff het dié vier op ’n wintermiddag bymekaar gevang.
“My ma sê sy het jou op TV op Idols gesien!” groet Charl Stapelberg vir Anton Bartman wanneer Anton in die oorvol studentekamer opdaag. “Nee ou, los daai, hierdie gaan oor Dikazzins,” keer Anton.
Charl en Anton speel onderskeidelik baskitaar en tromme vir Dikazzins. Die neefs KJ du Toit en Etienne Terblanche voltooi die vierstuks met kitare en ’n baie diep stem.
Anton het onlangs deurgedring na die Top 100 van KykNET se Afrikaanse Idols en was pas by ’n sangoefening in Kaapstad. Hy weier egter om meer daaroor te sê, want “dit gaan nou net oor Dikazzins”.
Terwyl hulle hulself om ’n blou bank in KJ se kamer tuismaak, vertel al vier van Dikazzins se musiek. “Noem dit blou-rock,” sê KJ. Dít bestaan uit verskeie oorspronklike songs. Nie een van die vier is alleen liedjieskrywer nie, maar Etienne en sy pa Leon lewer ’n stewige bydrae tot die repertoire.
“Ons speel ook Valiant, Gian, Johnny Cash en Rolling Stones,” sê KJ. “En Jan Blohm se ‘9mm blues’. Ek dink hoeka ons moet daai ‘mossie bruin’ van hom ook try,” beplan Anton aan ’n volgende oefening. Charl noem dat hy graag Ben Harper se musiek speel en Etienne beaam dit: “Ou ooms by ons gigs kry skoon trane in hul oë as ons sulke old school rock speel”. Hy voeg egter by dat hul musiek vir almal van agt tot 80 bedoel is.
Dikazzins speel al amper ’n jaar en ’n half saam. Toe sy neef Etienne verlede jaar uiteindelik op Stellenbosch aanland as eerstejaar, het KJ hom dadelik in ’n band ingeboelie. “Hy kon nie ‘nee’ sê nie, ek is ouer en groter en ons is familie,” lag hy agter sy bril.
KJ en Anton was saam in HJS Paarl op skool en daarna saam in Simonsberg op Stellenbosch. “Ek en KJ speel al van standerd sewe af téén mekaar en nou speel ons saam,” verduidelik Anton hoe hy by die neefs aangesluit het.
“En ek is net ’n musikale hoer,” antwoord Charl oor hoe hý in die prentjie beland het. Dikazzins was volgens KJ in Augustus verlede jaar op pad na ’n optrede by die Alibama-fees op Velddrif en ’n uur voor hulle moes vertrek, was die baskitaarspeler nog soek. “Toe bel Anton vir Charl en dié sê hy sal vir ons speel. Ons het hom toe maar gehou, want hy het ook naby ’n lekker jam room gebly,” lag KJ.
Charl se “losbandige” musikale aktiwiteite sluit onder meer die Boland Boere Band en Doringdraad in. Hy was ook deel van die Cat Stevens-huldeblyk Peace Train to a Wild World wat in Maart in die Klein Libertas Teater opgevoer is.
KJ vertel Dikazzins tree gereeld in Paarl, Malmesbury en Velddrif op Hulle was drie weke gelede deel van die vermaak by die Herfspragfees op De Doorns en vertrek op 22 Junie op ’n mini-toer na Saldanha en Langebaan aan die Weskus.
Hoekom nie op Stellenbosch nie? “Hier is te veel bands en die plekke wil nie betaal nie,” sê Anton.
“Ons is mos in dit vir geld,” laat Charl sarkasties hoor. “Ten minste het ons vir Anton as bemarker – hy het op De Doorns al 30 ons CD’s verkoop!” sê Etienne.
Dié tuisgemaakte CD, Die Effek van Rooiwyn, bevat net Dikazzins se eie songs en is in KJ se kamer op sy pa se plaas tussen Wellington en Paarl opgeneem. Dis ook waar die band meestal oefen. “Ja, skryf daar ons oefen in ’n stoor waar ek nog gaan doodgaan van die hooikoors,” kla KJ.
Wanneer hulle nie oefen of op pad is na ’n gig nie, studeer Charl deeltyds landbou op Wellington. Anton werk as finansiële adviseur by Old Mutual in Paarl ná ’n BCom-graad. KJ werk al amper ses jaar aan sy graad in meganiese ingenieurswese.
“Dís hoekom my ouma nie mag weet ons doen band-goed in die eksamen nie, sy is bang Etienne volg my voorbeeld,” sê hy terwyl hy by die venster uit loer asof die ouma enige oomblik gaan opdaag. Etienne is besig met sy tweede jaar in die rigting Wingerd- en Wynkunde op Stellenbosch.
Wat is die lekkerste van dinge van band speel? “Die freebies by gigs,” sê Anton. “As jy regtig die aand ’n hit is,” voeg Charl by. “Dit laat my voel soos die Rolling Stones!” sê KJ, waarop Etienne byvoeg dat die Stones net so baie snare breek nie.
“En die vreemdste ding was toe iemand op Velddrif eenkeer Charl se kitaar van lyf af probeer steel terwyl ons op stage besig was om te speel,” frons Etienne
Oppad buitentoe vir nóg foto’s stry die vier oor wie die mooiste is. Etienne en Charl sê dit Anton en dié voel dis beslis Charl. “Dalk vyf jaar gelede toe ek nog fiks en 10 kg ligter was,” sê hy. “Maar Etienne het ’n beauty spot!” kom KJ vir sy neef op.
“En ek is die jongste,”voeg die eienaar van die beauty spot self by. Anton verduidelik dís hoekom Etienne voor staan as hulle speel. “Ja,” snork Etienne, “ek kry eerste die vlieënde tamaties!”
En as hulle dalk regtig beroemd raak? “Dis altyd lekker om te speel, en as ons regtig famous kan raak, sal dit ook goed wees,” antwoord Charl. “My ander neef is Beitel Steenkamp van Zinkplaat en sy band is baie meer bekend,” sê Etienne. “Dit sal lekker wees as ons ook só kan wees.”
Wat sal die streng ouma daaroor te sê hê? “Ag nee, sy sal ook bly wees, sy sing dan selfs backing vocals op ons CD,” lag KJ. “Ja, so as iemand ons wil sponser vir ’n music video op MK89, sal ons nie ‘nee dankie’ sê nie,” voeg Anton by.
Moontlike kickers:
“Dit laat my voel soos die Rolling Stones!” (KJ)
“En ek is net ’n musikale hoer.” (Charl)
“Ou ooms by ons gigs kry skoon trane in hul oë as ons sulke old school rock speel.” (Etienne)