Monday, October 13, 2008

Die uitreik na die Noorde, 'n Kaalvoet perspektief

Dit het onder ons aandag gekom dat dit nog nie so magtig dreun in die Noorde nie. Daarom het ons, in samewerking met internasionale braaidag, besluit om dit langpad aan te durf en te gaan dreun.

Ons is net so na lunch weg uit Skelmbos op die Dinsdag. Ons oornag die aand by Vos en Marelize op Beaufort, voor ons die Woensdag deurstoot Potch toe. Johan had ander verpligtinge en hy kry ons op Bloemfontein se lughawe, vir terloops in Maseru, sowat 80 km buite Bloem, is. Vandaar, redelik veilig na Potch.

In Potch word ons vriendelik begroet deur Moya en die Black Light Theatre project, wat die aand vir ons open. Black Light Theatre Project is, by gebrek aan beter woorde, 'n kaberetterige band, met 'n meisie met 'n allemintige stem. Baie dankie vir die voorreg om saam met julle te kon speel.

Die aand ontaard natuurlik, en na 'n toer deur Potch se naglewe, ontwaak ek en Charl in dieselfde flat, ek spoor vir Etienne telefonies op en verneem dat Johan by 'n nabygelee vulstasie vir Etienne wag. Na ons die hele band en al die toerusting weer op dieselfde plek het, en dankie gese het aan ons gashere, is ons via die local Spur met die N12 Pretoria toe. Ons het die hele ding gedoen, selfs op die verkeer gevloek op die N1 Noord. Toe ek net gatvol is, en Etienne se senuwees finaal des moers, trek ons by Amber Cafe in. Amber is so restaurant op 'n stoep, heerlike plek.

Die aand speel die Johnny Late Band saam met ons. Johnny Late is blueserig met 'n paar baie cool renditions van so paar jazz standards. Baie dankie aan al drie mense wat daar was, en aan die Johnny Late band wat gebly het tot ons klaar is .

Ons oornag die aand in Brink se miljoenershuis. Hy het 'n TV so groot soos 'n regte movie en 'n swembad. Ons het in die local Dros gaan kuier die volgende dag, sodat Etienne kan swot en toe 'n belated braaidag langs Brink se swembad gehou. So 5uur se kant sak ons af Cafe Barcelona toe om saam met Die Kaalkop Waarheid te jam.

By die show was nogal baie mense. DKW is 'n groot band, wat nogal baie met die getalle gehelp het. Ons speel, vanwee ons luidrugtige natuur, heel laaste. Baie dankie vir Nardus vir al die gees en die T-shirts. Na die gig ry Charl ons Dronkwordspruit toe, en ons woon by Kabous Verwoed.

Om by Kabous te bly is 'n wonderlike ervaring. Nie net is Bella, 'n taalgenius nie (bv, 'n leeu se maanhare is eintlik sy brulhare), Jackie maak ook min of meer die beste brekvisse in die wereld. Ek en Johan het die middag by Kabous gebly terwyl Charl en Etienne gaan rus het. Die plan was dat hulle die stokke vat vir die eerste skof.

Die gig die aand verloop redelik goed. Die busking session die later die aand het ook nie heeltemal handuit geruk nie. Deon van die Sinkshack is een van die coolste mense wat ek nog ooit die voorreg gehad het om te ontmoet. Dis moontlik net my ma wat meer kan omgee vir my, as wat Deon vir die musikante doen. En hy maak die beste kos wat ek nog ooit in die Noorde geeet het.

Ek en Johan is toe terug na Kabous toe, waar etienne en Charl ons kom haal het later die oggend.

EK wil ook darem net dankie se aan Lyanda vir daai klipkruisies. Myne is steeds op my kitaar.

Die volgende dag mos ons terug Kaap toe. Toe ek wakker word was ons reeds op Kroonstad, waar die Kruger-familie ons vir brekvis gestick het.

Ons slaan ons terug Kaap toe. Ons het slegs gestop vir Charl om te rook en vir die padwerke.

4000km, 4 gigs en klomp liter diesel later, en volgende keer vlieg ons.